Sunday, August 19, 2012

Ekspo vir Jong Wetenskaplikes

'n Week of twee gelede het Antoinette aan 'n Ekspo vir Jong Wetenskaplikes deelgeneem, onder aansporing van haar Wetenskap-juffrou, Cynthia.  Gedurende die vakansie is daar eksperimente tuis gedoen, want die onderwerp is:  "Die Wonderlike Wereld van Kristalle".  Daar is toe versadigde oplossings gemaak met sout, suiker en aluin en al drie is verskillend gekleur met voedselkleursel.  Toe begin die wag:  watter een van die drie gaan eerste kristalle maak???

Namate die dae begin verbygaan, het Antoinette se gesig al langer geraak en sy het begin praat van "Sal maar moet onttrek aan die Ekspo", want niks wou gebeur nie.  Einde ten laaste het 'n piepklein kristalletjie aan die garedraad in die soutoplossing begin verskyn, maar niks verder nie.  Toe die skool begin, het ek vir Juf. Cynthia vertel van die mislukte eksperiment en tot my verbasing was sy heel opgewonde daaroor en het vertel dat wetenskaplikes dikwels eksperimente herhaaldelik moet oordoen, om uit te vind wat werk en wat nie.  Sy raai Antoinette toe aan om dit weer te doen, maar hierdie keer met kookwater.  Ongeveer 'n halfuur nadat Antoinette die drie oplossings in die vensterbank neergesit het, roep sy baie opgewonde:  Die aluin het alreeds begin om kristalle te maak en dit groei sommer gou.

Die dag na die Ekspo, hoor sy toe dat sy en nog 3 van die Graad 5's se projekte gekies is om saam met die graad 6 en 7's te gaan deelneem aan die Weskus Ekspo te Velddrif, waar sy toe haar man tussen die groter kinders gestaan het en vir die beoordelaars met groot entoesiasme kon vertel wat sy alles gedoen het.  Pa en Ma moes egter ook bontstaan met die aankoop van benodigdhede en die lamineer van die prente en tikwerk.  Maar toe sy hoor dat sy 'n Silwer toekenning vir haar projek gekry het, was dit 'n BAIE trotse dogtertjie, met twee BAIE trotse ouers.  Dit was eers net voor 9 die aand dat almal terug by die huis was, baie moeg, maar baie gelukkig.



No comments:

Post a Comment