Wednesday, April 27, 2011

Safari-middag

Ek en vriendin Maresa (wat net so foto-mal soos ek is) is vanmiddag so net na een hier weg na die Thali-Thali wildplaas, naby Langebaan.  Daar gekom, is ons verwelkom deur die vriendelike eienaar, Hugo Tallie.  Nadat hy effe skepties geluister het na ons plan om op die plaas te gaan stap en foto's te neem, het hy ons vrywaringsvorms laat teken (standaardprosedure vir twee middeljarige vroue wat tussen wilde diere wil gaan loop?!?) en toe vir ons 'n vae roete beduie.  Nadat ons aanvanklik 'n bietjie "bundu bashing" tussen die ruie plante gedoen het (gemaklike tekkies ten spyt), het ons op 'n grasvlakte uitgekom en amper dadelik diere gesien.  Soos ons hulle egter van voor af probeer "bekruip" het, het hulle ons op 'n myl gewaar en wegbeweeg.  Ons was wel so bevoorreg om te sien hoe 'n hele trop springbokke (nee, nie John Smit en kie nie!) voor ons aan't hardloop gaan, kompleet met bokspronge en al.  Wat 'n gesig!
Ons het ook ander diere, soos twee skilpaaie, bloukraanvoels, volstruise en swart wildebeeste gesien, maar na enkele kilometers besluit om die sandpaadjie teen die bult uit te volg.  'n Ent teen hierdie bultjie op, met baie los sand, het ek besluit dat ek nou verder geloop het in een agtermiddag as in die afgelope weke tesame.  Met bewende bene en 'n asem wat erger geblaas het as 'n pofadder, het ek besluit dit is nou die aangewese tyd om die eienaar te bel en te vra of ons die "staptog" verder met die plaas se safari-bakkie kan aandurf.  Na 'n paar futiele pogings, waartydens ek meer as een maal die sein verloor het (dalk weens die kragdrade bokant ons?) het ek hom bereik en verduidelik dat ek die opstal BAIE ver van ons af kan sien, maar dat daar geen manier is dat ek dit gaan bereik nie.  Maresa dalk, maar beslis nie ek nie.  Daarvoor was ek te vodde.  Hy het toe die bakkie gestuur toe ons net mooi 'n vurk in die sandpaadjie kry en ek het nog nooit so lekker gesit soos agter op daardie bakkie nie!  Die ervare en aangename drywer het ons toe tot redelik naby aan die bokke gebring met die bakkie en gereeld gestop dat ons kon foto's neem.  Ons het daar en dan besluit dat dit 'n beter opsie as die stappery is.
Maresa het erken sy het gedink ek was my sinne kwyt om te bel vir redding, maar dat sy intussen (in meer gemak) van opinie verander het.
Voordat ons gered is, het ons ook hierdie pragtige suikerbekkie gewaar.
Die swart wildebeeste het op een stadium op loop gegaan dat die stof staan.
Rooi hartbeeste op die rant.  Kort hierna het 'n ander vriendin, Betsie, 'n sms gestuur.  In my pogings om die sms te antwoord, foto's te neem en diere te kyk, het ons toe die selfoon in die stofpad agtergelaat, maar kon dit gelukkig betyds opspoor.  Die sebras was ook pragtig en het mooi stilgestaan dat ons hulle in die tanende lig kon afneem.

Hierdie trop bokke het 'n baie spesiale metgesel:  'n sebra-hings wat deur sy trop verstoot is.  Hy het hom by die bokke aangesluit in 'n poging tot geselskap.

Soos altyd, was die springbokkies pragtig.  Seldsame wit springbokkies was ook onder die trop.

Met die gedagte aan 'n heerlike pienk drinkdingetjie voordat ons in die pad val huis toe, is ons terug na die gesellige restaurant, voor ons terug keer om weer more te gaan werk...
Wat 'n heerlike middag!  Vir enige een wat so 'n besondere avontuur wil belewe, gaan kyk gerus na:  http://www.thalithali.co.za/

1 comment:

  1. Jou fotos is pragtig!! (Behalwe vir een, jy sal weet watter een) Baie dankie vir 'n middag wat ek nog vir jare sal onthou!

    ReplyDelete